Ons visie

Dit is om na die intellektuele, sosiale, emosionele en fisiese welstand van al die leerders om te sien. Hierdeur verseker ons dat hulle kan ontwikkel in verantwoordelike, en produktiewe landsburgers wat 'n positiewe bydrae tot die samelewing kan lewer.

Ons missie

Om as dissipels van Christus, God te eer, vir mekaar om te gee, met die evangelie van hoop in Totius hulp te verleen en van mekaar kinders van Jesus te maak.

Skoollied

Totius skool ons is trots op jou
want jy is ons keuse
Totius skool hier leer ons ook bou
"WERK EN WEN" ons leuse
Op Totius skool tesaam
onder leiding
werk ons almal vir ons naam met
trotse wysing.
As ons weer van hier moet gaan
sal ons steeds onthou
Totius ons sal altyd bly
steeds aan jou getrou.

Skoolreëls

Geen skool kan sonder skoolreëls effektief funksioneer nie. Reëls is gelykstaande aan dissipline. Daar word van elke ouer en leerder verwag om hulleself met Laerskool Totius se skoolreëls te verwittig. Hierdie reëls is in die kantoor beskikbaar, maar kan ook hier afgelaai word deur op die skakel hier onder te klik.
Skoolreëls

Geskiedenis

Laerskool Totius open in Januarie 1950 en staan slegs as Afrikaans Medium skool bekend. Gedurende 1953 word die naam Totius vir die eerste keer gebruik. Op 1 Mei 1950 word 'n ouervergadering gehou en die eerste skoolkomitee word saamgestel. Tydens 'n vergadering, gehou op 4 Desember 1950, word Mnr. SIW Roos, wat waargeneem het, permanent as hoof aangestel. Mnr. Roos verbeter later sy kwalifikasies en word Dr. Roos. Gedurende 1957 word begin met die bou van die skoolsaal. Dit is moontlik gemaak deur 'n skenking van £ 2000 deur VESCO. Op 1 April 1958 word daar begin met die bou van ons skoolbiblioteek en dit word aan teen die einde van 1961 in gebruik geneem.

Op 4 Mei 1959 neem Mnr. HJP van Zyl by Dr. Roos oor as hoof nadat Dr. Roos die tuig neergelê het. Gedurende 1968 word kwotasies ingewin vir ons eerste paviljoene. Hierdie paviljoene is later vervang met ons groot paviljoen wat vandag in gebruik is. Mnr. van Zyl tree na 'n termyn van 21 jaar as hoof van Totius af en Mnr. LJ Lowies neem op 7 Julie 1979 oor. Hy dien in hierdie pos tot 31 Maart 1982. Gedurende Augustus 1982 neem Mnr. JA Schoombee oor as hoof. Hy beklee die pos vir 23 jaar tot en met sy aftrede op 30 Junie 2005. Mnr. A Smith neem waar as hoof totdat die huidige hoof, Mnr. MK Erasmus, in Januarie 2006 oorneem.

Gedurende 2000 vier Totius sy 50 jarige bestaan. Deur die afgelope meer as 'n halfeeu het die skoolgemeenskap van Totius die skool uitgebou en ontwikkel tot 'n pragtige skool met 'n pragtige terrein en van die beste fasiliteite wat 'n mens by 'n skool kan verwag. Dit is 'n proses wat steeds aan die gang is en verbeterings word jaarliks gedoen.

Ons hier by Totius is baie trots op die bydrae wat ons gelewer het, en steeds lewer in die opvoeding van soveel van ons dorp se mense – mense wat op hul beurt op vele terreine en in bykans alle beroepe hul plekke volstaan.